2013 is Van Coke Kartel se 7de bestaansjaar, en hulle het onlangs album nommer 5 uitgereik. Na 4 ander suksesvolle plate, is Bloed, Sweet & Trane (moet hom nie verwar met #3, Skop, Skiet en Donner, nie) ‘n relatiewe veilige produk. Almal ken Van Coke Kartel se unieke Afrikaanse alternatiewe rock goed – Francois van Coke se lirieke, baie herkenbare stem en die bende wat saam speel se styl en ‘klank’ is gevestig, en almal weet wat om te verwag.

Hierdie album doen als reg. Van die openingsnote van Die Dag, waar Wynand Myburgh die geleentheid kry om sy baskitaar te laat brul, tot snitte soos Sweef en Teenaanval waar die groep se 110% rock die kans kry om te blink. Jedd Kossew maak ook goeie gebruik van al die geleenthede wat die album hom bied om sy kitaarvernuf te vertoon. Hierdie ouens verstaan rock en speel hard, maar wissel ook af met ‘n paar rustiger klanke. Die slot-snit, Lewendig Eindig, klink nogal asof dit dieselfde gleuf probeer vul wat Tot Die Son Uitkom vroeër so goed gedoen het.

Liries konsentreer die album op die verval van die wêreld, en die bloederige, harde baklei om dinge te verbeter. Daar word verwys na Oscar Pistorius se onlangse val van helde-status in Niemand is meer heilig nie – ‘n siniese kykie na die illusie van helde, en hul onvermydelike tragiese daal na die hel.

Elke keer nadat ek Bloed, Sweet & Trane geluister het, vang ek myself dat ek Voor Ons Stof Word (van Skop, Skiet en Donner) neurie. Hoewel die nuwe album oudergewoonte al die regte Van Coke Kartel-klanke maak, voel dit maar soos meer van dieselfde, en glo ek nie dit sal dieselfde impak hê as van hulle vorige werk nie. Ek weet nie of dit vars genoeg is om ‘n radio-luisteraar te verlei nie, maar natuurlik sal alle aanhangers versot wees op Bloed, Sweet & Trane.